Hiermee ‘n opsomming van gebedsriglyne deur Derek Prince:

Daar is verskillende soorte gebede.  Hier fokus ons slegs op twaalf.

1. Die gebed van Danksegging (Thanksgiving)

Ps 100:4
Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam.

Ons gaan met danksegging Sy poorte binne en dank Hom vir alles wat Hy vir ons gedoen het en vir ons verlossing wat Hy voorsien het. Dan gaan ons met lofpryssing in Sy howe in, ons prys Hom vir wie Hy is en Sy Grootheid en Sy Goedertierenheid teenoor ons!

2. Die gebed van Lofpryssing (Praise)

Hierdie twee is baie belangrik en gaan hand aan hand. Danksegging en lofpryssing laat jou toe in die teenwoordigheid van God.

Tien melaatses het na Hom gekom. Hy het al tien van hulle genees. Maar net een het teruggekom om hom te bedank. Die een wat teruggekom het, het meer as net liggaamlike genesing ontvang, hy het ook verlossing ontvang. Sy dankseggingshart het hom toegang gegee tot die teenwoordigheid van God.

Danksegging gaan oor ons – lofpryssing gaan oor Hom!

3. Die gebed van Aanbidding (Worship)

Aanbidding het te doen met jou houding teenoor God. Buig jou hoof, kniel, lig hande op, ens. Ons aanbid Hom omdat Hy ons God is. Wat mense ook al aanbid, dit is hulle god. Alles wat jy aanbid, het mag oor jou. As dit mammon is, sal dit die mag oor jou hê. As ons God aanbid, gee ons Hom mag oor ons.

As jy waarlik in God se Teenwoordigheid kom om Hom te aanbid, sal jy Sy stem hoor!

4. Die gebed van Petisie (Petision)

1 Joh 5:14-15
En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.

Mark 11:24
Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

As ons weet dat ons volgens die wil van God bid, sal Hy ons petisie toestaan. Glo dat jy ontvang het waarvoor jy gevra het – dit is geloof.

5. Die gebed van Voorbidding (Intersessor)

Dit is die hoogste roeping in die Christelike lewe, om tussen God en die persoon vir wie jy bid, in te tree.

Abraham het tussen God en Sodom en Gemora gestaan en Moses het tussen God en Israel (God se opstandige volk) gestaan.

Eze 22:30-31
Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ‘n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie. Daarom laat Ek my toorn oor hulle losbreek en vernietig Ek hulle met die vuur van my gramskap. Ek laat hulle kry wat hulle verdien,” sê die Here my God.

Jes 59:16
En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie; daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom ondersteun.

Die profeet en die priester is in diens van God, die prinse en mense is sekulêr. As die profeet en die priester God verontagsaam, word dit ongelukkig weerspieël in die leiers van ‘n nasie en die volke van daardie land. Probleme in ‘n nasie spruit uit probleme in die kerk. God moet die kerk verander om die nasie te verander.  As die profete en priesters misluk, sal die prinse (sekulêre leiers) misluk, en ly die nasie.

Die intersessor is God-gesentreerd, hy of sy is nie probleemgerig nie. Hy is nie gefokus op wat mens kan doen nie, hy het ‘n visie wat GOD KAN DOEN.

6. Die gebed van Smeking (Supplication)

Die gebed van smeking vra net genade, genade, genade.

Sag 12:10
Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind.

Alhoewel Isael hulle Messias verwerp het toe Hy die eerste keer na hulle toe gekom het, sal God hulle herbesoek en Sy Gees van genade en smeking weer op hulle uitstort volgens die bogenoemde Skrif.

Die Gees van genade en smekinge kom slegs van God. Ons kan dit nie verdien nie. God se genade is vir almal bedoel. Wat mense verblind om Sy genade te sien en te ontvang, is hul eie ek, en  selfgeregtigheid.

7. Die gebed van Opdrag (Command)

Jos 10:12-13  Toe het Josua met die HERE gespreek, op die dag dat die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ájalon!Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent ’n volle dag.

Josua het met die Here gepraat, hy was in kontak met God. Hy het die stem van God gehoor en daarop gehandel. Hy is op daardie dag gesalf om die gebed van opdrag te doen. Hierdie spesifieke gebed kan ons veral gebruik as ons bid vir demoniese verlossing.

8. Die gebed van Verpligting (Commitment)

As die las vir jou te swaar word, handig dit oor aan Jesus.

Ps 37:5
Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Verpligting is ‘n daad, vertroue is ‘n houding of gesindheid. Terwyl jy vertrou, doen die Here dit wat jy aan Hom toevertrou het.

9. Die gebed van Toewyding (Dedication)

Toewyding beteken om iets eenkant te sit en uit te sonder vir iets spesifiek.

Joh 10:36
Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’?

Joh 17:19
en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.

Jesus het gesê: die Vader het My afgesonder en My in die wêreld gestuur. Die Vader het Jesus uitgesonder om ‘n werk te doen wat net Hy kon doen. Jesus het ook gesê dat Hy Homself onderskei om te doen wat die Vader Hom uitgesonder het om te doen.

Ontdek waarvoor God jou uitgesonder het, dan kan jy jouself ook afsonder om te doen wat Hy in die eerste plek deur jou wil doen.

Rom 12:1
En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

10. Die gebed van Volharding (Persistance)

Luk 11:5-10
Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het ‘n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie …’ Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie. “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

Jesus het volharding geprys. Klop en hou aan klop. Die wedstryd is nie verby voordat jy opgee nie!

11. Die gebed van Seëning (Aaronic Blessing)

Num 6:22-27
Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën: “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! “So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.”

Hierdie gebed moet ons vrylik oor ons gesin, familie en vriende gereeld uitspreek in die naam van Jesus!

12. Gebed van Vervloeking

Net soos ons die seën kan bid, kan ons ook ‘n situasie vervloek maar dit moet baie versigtig hanteer word.

Matt 21:19-21
Toe Hy ‘n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.” En die vyeboom het dadelik verdroog. Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?” Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur.

Ons fokus dikwels net op die gedeelte wat sê as jy glo, kan jy berge versit. Maar Jesus wys ons ook dat ‘n vloek uitgespreek kan word indien nodig. Jesus was nooit onverskillig teenoor mense en situasies nie, en ons moet ook nie wees nie.

Hierdie is riglyne (van Derek Prince) om te gebruik en as Sy kinders moet ons gelei word deur die Heilige Gees om die regte gebed te bid op die regte tyd en plek. Net soos die nege gawes van die Heilige Gees wat almal verskillend is, het ons net een gawe op ‘n spesifieke tyd nodig wat ‘n doel kan dien om in ‘n behoefte te voorsien.
“An artist don’t paint by numbers, and Christians don’t live according to steps or numbers.”

As Sy kinders moet ons absoluut afhanklik wees van die Heilige Gees en soos ons al hoe nader aan die eindtyd beweeg word dit al hoe donkerder en moeiliker om swart en wit te onderskei.

Kettingbriewe het in 1935 ontstaan met beloftes van wonderwerke as jy sekere dinge doen en die brief weer vir al jou kontakte stuur, en groot teleurstellings as jy dit verbreek. Met epos het dit geweldig gegroei en daar is altyd ‘n geestelike sy bv. “tik: Amen as jy lief is vir Jesus” ens. Christene is ongelukkig baie liggelowig en glo al hier boodskappe vandag op sosiale media en voel verplig om deel te neem. Ons moet egter Sy Aangesig soek in alles!

Die groot herlewings van die verlede was gegrond op die gebed van ‘n handvol gelowiges wat Sy Aangesig dag en nag gesoek het! Ons het nie duisende mense op almal se kontak lyse nodig om God se Hand te beweeg nie! Hy soek ‘n handvol intersessors wat hulle verootmoedig in Sy teenwoordigheig en pleit vir Sy Genade vir onsself en Suid Afrika.