Die belangrikse is om eerstens GEESTELIK STERK te wees……..

Efe 6:10
Word kragtig in die Here en in die krag van Sy sterkte.

Daarom bid ons sonder ophou ons daaglikse skrif-gebed.

SODAT ons tweedens die wapenrusting KAN OPTEL, AANTREK EN GEBRUIK.

Efe 6:13 – 17
Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees -dit is die woord van God.

Die belangrikste items van ons wapenrusting in tye van oorlog, is die swaard en skild. Jy kan jou helm en borswapen dra maar sonder die skild en die swaard gaan jy nie lank oorleef nie. Daarmee kan jy jouself BESKERM, VERDEDIG en OORWIN!

Efe 6:16
Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.

Met die Skild beskerm ons onsself. Dit is die Skild van geloof. Die Skild is ons geloof in die Woord!

Wat is geloof?

Heb 11:1
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 

Hoe kry ons geloof?

Rom 10:17
Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

Dit beteken geloof is die resultaat wanneer jy Sy Woord hoor en aanvaar.

DIE HEILIGE GEES NEEM DIE WOORD VAN GOD EN GENEREER GELOOF IN JOU.

Efe 6:17
En neem ….. die swaard van die Gees – dit is die woord van God.

DIE WOORD IS ONS SWAARD !

Die skild is afhangend van die swaard en die twee gaan hand aan hand.

So dis baie belangrik om tyd in die Woord te spandeer, om die Woord te lees, luister en op die Woord te mediteer. Hoe meer tyd ons in die Woord spandeer, lees en luister, hoe skerper word ons swaard en hoe groter word ons Skild. En hoe groter ons Skild hoe meer beskerming het ons. Kry ‘n audio Bybel op jou foon en luister so veel moontlik na Sy Woord.

Heb 11:6
En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; 

Rom 1:17 & Gal 3:11 & Heb 10:38 & Hab 2:7
Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.

1 Joh 5:4
En dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.

Ongelukkig het sommige hierdie lering gebruik (name it, claim it) vanaf die tagtiger jare om luukshede en rykdom te bekom wat onskriftuurlik is. Die Christene het daarna “geloof” heeltemal opsy gesit en die vyand het lekker gelag. Maar ons ken sy streke.

GELOOF IS ONTSETTEND BELANGRIK!

Vandat jy die eerste keer Joh 3:16 gehoor het, het jy geloof ontvang om Jesus as Saligmaker aan te neem. Die Woord = Geloof!

Hoe lees jy die Woord?

Iemand het eenkeer gesê: LEES BAIE, LEES WYD, LEES DIEP.

Dis belangrik om ‘n goeie vertaling van die Bybel te gebruik. Die ou vertalings soos die KJV (King James Version) was vertaal woord vir woord en die NIV (New International Version) was vertaal gedagte vir gedagte. Daarna het daar parafrases en nuwe vertalings verskyn wat al hoe verder van die kernwaarheid van die teks beweeg het. Hierdie vertalings lees lekker gemaklik en dit is ‘n liggewig swaard wat aan jou sy hang en jy hoef nie swaar te dra nie. Sodra jy jou swaard moet gebruik, kom jy agter jou swaard is van aluminium en plastiek en beteken nie veel nie. Wanneer ons teen die Vyand staan, spreek ons die Woord van God uit en dit is belangrik dat die skrif wat ons gebruik, kragtig is. Om seker te maak, vra vir Google of jy ‘n goeie vertaling gebruik.

Kom ons vra die Here vir ‘n Gees van Waarheid. Die vyand weet ook ons lewe in die laaste dae en sy doel is om die liggaam van Jesus Christus te bedrieg en te verblind.

2 Thes 2:3 
Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie.

Mat 24:24 
Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei.

Mat 24:10 
In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word…

Mat 24:11 
Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei.

1 Tim 4:1 
Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang.

Ons sien dit in vandag se tyd; sonde word haatspraak genoem, sondeberou is iets uit die middeleeue en waarheid is ‘n relatiewe konsep. Vra dus vir ‘n Gees van Waarheid om ons te beskerm en ons op die regte pad te lei!
Dit is belangrik om te besef dat ‘n krygsman sterk moet wees, sy volle wapenrusting moet dra en dat hy goeie sig moet hê. As hy verblind is sal al sy magtige krag en swaard nie veel beteken nie.

WAARHEID VERSKAF VISIE SODAT ONS DIE REGTE PAD KAN SIEN, VOLG EN NIE AFDWAAL NIE.

Rom 12:2
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Fil 4:6 – 7
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

2 Kor 4: 16 – 18 
Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.