Die Boodskap uit die Hemel

1. Vir die koorleier, ‘n Psalm van Dawid.
2. Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
3. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. 4. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem.
5. Tog gaan daarvan ‘n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde. Vir die son is daar in die hemel ‘n tent opgeslaan.
6. As hy stralend begin om sy baan te volg, is hy soos ‘n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom.
7. Aan die een kant van die hemel kom hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy gloed nie. 

Toe Dawid sy oë opslaan na die hemel daarbo het hy die heerlikheid van God en Sy handewerk waargeneem. Ons ervaar dieselfde as ons op die gras lê en opkyk na die daghemel. Ons sien die blou lug met wit wolke wat rond sweef en wonderlike sonsondergange en opkomste. Niemand kan die kleurvolle reënboog op ‘n reënerige dag raakvat nie al wil hy. Dan kom die naghemel met die groot pragtige maan wat sy silwer strale op moederaarde uitstort, en alles prentjie-mooi verf. Die ontsag van die stil sterrestelsel wat jou asem wegslaan. Die omvang en grootsheid van hierdie hemelse liggame het vir David en al die ander geskree wat sou opkyk en kon sien: “Die God wat dit alles geskape het, is HEERLIK” !!

Verder verklaar die hemele ook God se uitstekende ingenieurs vaardighede, kunstenaarskap en Sy goedheid deur die skep van iets wat so uitstekend is vir die ganse mensdom om te sien en te geniet.

Dag na dag word hulle spraak uitgespreek en nag na nag word die kennis van God bekend gemaak. Die heelal het nie die taal van mense of engele nie, maar tog verkondig hul stem die heerlikheid van God. Vanuit hul verhewe posisie kan hul getuies nie stilgemaak word nie. Elke sekonde verkondig hulle die merkwaardige kennis van God aan.

Die son, maan en sterre is God se predikers wat deur die ruimte reis. ‘n Mens kan hul stem oral hoor. Hulle leerstellings is nie vir die ore bedoel nie, want dit spreek nie artikuleerde geluide van ‘n taal nie. In plaas daarvan is dit prente en beelde wat die oë en hart van mense aanspreek. Dus, die geringste mense in die verste uithoeke van die aarde kan die heerlike werke van God “hoor” deur dit te sien.

Tot die einde van die aarde kan die stem van die hemelliggame “gehoor” word. Nie deur ‘n taal nie, maar deur tekens, vertel hulle hul doel en handelinge. In die hemel trek die son dag na dag op en marsjeer getrou in sy baan oggend tot aand. Die son word ook vergelyk soos ‘n bruidegom wat uit sy kamer kom. Gereed vir sy bruid. Wat ‘n pragtige beeld is dit nie dat die Seun van God wat ons Bruidegom is, uit die hemele sal kom, helderder sal skyn as die son, om ons Sy bruid te kom haal. Halleluja!

Rom. 1:20
Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Die Boodskap uit die Woord

Die glorieryke karakter van God se woord word nou vertoon. God openbaar Homself aan ons deur Sy skepping, maar nog kosbaarder is dit wanneer Hy Homself aan ons openbaar deur Sy woord. Die woord is ‘n hoër openbaring van God as die skepping omdat dit God openbaar as die Verbondsgod van liefde.

8. Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar.

Dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. Dit gee ons alles wat verband hou met lewe en godsaligheid. Dit bring die hele persoon genesing en vergifnis van sondes.

9. Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. 

Die woord van God is betroubaar. Daarom kan dit die eenvoudige mens verstandig maak. Jy het miskien nie ‘n goeie skool of universiteits opleiding nie, maar as jy die woord van God bestudeer en vertrou, sal jy ‘n wyse persoon wees met insig in die dinge van die lewe.

10. Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig. 

God se woord is die openbaring van ‘n Heilige, waaragtige en altyd regverdige God. Hy is moreel, prakties en universeel altyd reg. Dit is ‘n seën om in ‘n persoonlike verhouding met God te wees want dit verbly die hart van die mens en gee ons ook die ewige lewe.

Die Groot Waarde van God se Woord

11. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ‘n heuningkoek.

Die woord van God is suiwerder as goud, omdat dit Sy woord is, en dit kom van Hom af. God se woord kan niemand in sonde lei nie. Hierdie suiwer woord sal die oë van jou begrip en kennis verlig. God se geskrewe openbaring aan die mens is waardevoller as goud. Moet nie dat geld of welvaart die plek van God se woord in jou lewe oorneem nie. Die waarde van God se woord is ook baie wensliker as aardse ervarings van ons sintuie. Heuning is aangenaam en soet op die tong, maar God se woord is soeter!

12. U dienaar laat hom daardeur leër. Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.

Om met God te kommunikeer deur die bestudering van die woord, sal ‘n waardering vir God se ontsag en majesteit in jou kweek. Die woord is diep verbonde aan God self. As ons God se woord hou, is daar groot beloning en gemoedsrus. ‘n Rustige gewete is ‘n bietjie hemel op aarde.

Die Begeerte na Innerlike Reiniging

13. Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.

Ons ignoreer of is ongehoorsaam aan God se woord van tyd tot tyd. Soms verstaan ons nie eens ons foute nie. Maar ons is steeds daarvoor verantwoordelik. Ons moet die Here vra om ons te reinig van ons geheime foute. Dit is net vir ons ‘n geheim, maar nie vir Hom nie.

14. Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde. 

Ons is almal in staat om opsetlike sondes te pleeg, wat ons welbewus is van. Soos wanneer ons trots of beterwetend is en nie ag slaan op waarskuwings van vriende of van God nie. As ons ons innerlike en uiterlike sondes aanspreek deur belydenis en die suiwer woord van God daagliks te bestudeer, kan ons onberispelik en onskuldig wees van groot oortredinge. Ons sal nooit volmaak wees in ons gevalle toestand nie, maar ons kan streef om opreg voor God te staan deur die bediening van die Heilige Gees en die krag van Sy woord.

Joh 1:1
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 

15. Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.

Laat ons soos Dawid ons mond en hart nederig oorgee aan God, ons skepper. Nie net in spraak nie, maar ook in daad. Laat ons ons liggame en gees aanbied as ‘n lewende offer wat aanvaarbaar is vir Hom. Dan sal ons altyd standvastig bly staan op die Rots van alle eeue. Amen