Woord van Wysheid

Die Woord van Wysheid kan gedefinieer word as ‘n bonatuurlike openbaring van die verstand en die doel van God wat deur die Heilige Gees gekommunikeer word. Die Woord van Wysheid, die eerste en belangrikste van die geestelike gawes, is die wonderlikste van al die manifestasies van die Gees van God. Dit is God se wysheid aan die mens oorgedra. Wanneer die Here spesifiek Sy doel openbaar aan ‘n individu, kry daardie person ‘n woord van God se wysheid.

Dit is nie ‘n gawe van wysheid nie maar ‘n Woord van Wysheid.

“Woord van Wysheid” is iets wat in die toekoms gaan gebeur oftewel voorspellings, wat so dikwels profesie genoem word. Wat ons in die Ou Testament gewoonlik “profesieë” noem, is eintlik voorspellings. Die voorspellings van die Ou Testament was manifestasies van die Woord van Wysheid, en die eenvoudige gawe van Profesie is oor die algemeen gebruik om hierdie openbarings te beklee. Ons kan die Woord van Wysheid onderskei van die gawe van Profesie, omdat die eerste ‘n voorspelling is, en die ander die eenvoudigste vorm van geïnspireerde uitspraak.

Voorbeeld: jy kontak jou prokureur vir advies oor ‘n spesifieke saak. Jou prokureur gee nie vir jou wysheid nie maar ‘n “woord van wysheid” wat jou help om jou spesifieke saak op te los (in jou toekoms).

Voorbeelde in die Ou Testament

Moses het by die brandende bos die woord van wysheid gekry. Die woord van wysheid was in werking toe God die wet op Sinai aan Israel gegee het. Die Here het Sy gedagtes en doel aan Moses gekommunikeer en dit was volgens die woord van wysheid dat God die hele wet gegee het. Josef sien die toekoms vir sy eie lewe, en kon Farao wys wat sou gebeur in Egipte om die nasie te red van rampspoed. So het Josef die woord van wysheid uitgeoefen. Ons het ‘n voorbeeld van die woord van wysheid in Jona. Die woord om na Nineve te gaan, was ‘n openbaring van die doel van God. Daniel het ‘n paar merkwaardige visioene gehad oor die Babiloniese Ryk. Die openbaring en interpretasies was manifestasies van die gawe van die woord van wysheid. Die boek Esegiël sluit af met ‘n openbaring van die komende duisendjarige tempel. Wanneer die Here ‘n openbaring van Sy doel gee, soos die vernietiging van Sodom en Gomorra, was ‘n woord van wysheid gegee.

Voorbeelde in die Nuwe Testament

Agabus wys vir die kerk in Han 11:28 dat daar ‘n groot hongersnood oppad was en het ook vir Paulus ‘n woord van wysheid gegee oor wat met hom gaan gebeur in die toekoms. Han 21:10.

God het al Sy wette aan Moses geopenbaar deur ‘n woord van wysheid. Maar dit moet duidelik verstaan word dat geen verdere openbaring rakende wette ooit na Moses gegee is nie. Die Skrif sê duidelik dat die wet gegee is deur Moses. Enige verdere openbaring omtrent die wet is NIE VAN HOM NIE. Die wet dus is die volledige openbaring van God aangaande Sy gedagtes vir die kinders van Israel.

Die volheid van genade en waarheid het deur Christus na ons gekom in SY WOORD. Hierdie waarheid kan nie aangevul word met nuwe openbarings nie.

Ope 22:18-19 
Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.

Geen profeet het verdere openbaring gebring na Moses aangaande die wet nie. Op dieselfde manier kan daar geen verdere openbaring van addisionele waarheid vandag gebring word nie.

Let wel daar is ‘n magdom van beste verkoper boeke van mense wat in die hemel was en wie hulle eie openbarings uitdeel. Die enigste openbaring van die hemel wat ons moet navolg is: Ope 1-22. ‘n Baie gewilde boek “The Shack” se openbarings het Christene in ekstase gelaat terwyl die inhoud heeltemal teenstrydig met Sy Woord is. Dieselfde skrywer, William P. Young se nuutste boek is “Lies we believe about God” wat openbaar dat almal klaar gered is.

Dus elkeen wat ‘n openbaring gee in teenstelling met die waarheid (SY WOORD) wat Jesus aan ons gegee het, is ‘n valse profeet.

Laat ons die beste gawes opreg begeer.