Die hiper-genade boodskap is die bewering dat gelowiges, sodra hulle gered is, nie meer bewus sal wees van sondes nie. Dit kan beslis waar wees as dit binne die regte konteks gehou word. As dit in die verkeerde konteks gehou word, kan dit mense tot geestelike dwaling lei.

DEEL I

Wat is die hiper-genade boodskap?

Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy betaal vir elke sonde wat ek ooit sal pleeg, van Adam se eerste sonde tot die heel laaste sonde wat op hierdie planeet gepleeg sal word. Sodra ons wedergebore word, word ons verseël deur die Heilige Gees in Christus, en ons toekomstige sondes word versoen in die bloed van Jesus. Ons word nie gedurig vergewe nie. Die Vader was tevrede met die finale offer wat Sy Seun gemaak het. Slegs bloed kan die sonde vergewe. As ek smeek om vergifnis, het Jesus tevergeefs gesterf. Sodra jy waarlik geestelik wedergebore word, is jy verseël tot die dag van verlossing, die belofte van die ewige lewe. 

DIE REGTE KONTEKS

Dit is absoluut waar dat ons bevry word van die skuld van sonde in ons gewete wanneer ons gereinig word deur die bloed van Jesus. As ons sonde doen en berou het, suiwer die bloed van Jesus ons gewete en reinig ons ons van alle ongeregtigheid.

DIE VERKEERDE KONTEKS

Die verkeerde konteks sê dat ‘n gelowige nie meer sonde het nie, omdat al sy sondes permanent verwyder is deur die voltooide werk van Christus. Sodoende moet die gelowige die oortuiging rakende sonde ignoreer, omdat die skuldgevoel ons ‘n ‘sondige gewete’ gee. Dit is ‘n gevaarlike leerstelling omdat ‘n gelowige wat in sonde val, soos pornografie, skuldgevoelens gaan ervaar. Sulke skuldgevoelens is die stem van sy gewete, en skuld sal nie weggeneem word voordat hy hom bekeer het en deur die bloed van Jesus van hierdie sonde gereinig is nie. As hierdie gelowige voortgaan met sy sonde, sal sy hart verhard en hy sal sy gedrag regverdig.

Die leer van die hiper-genade leraars is ‘n verdraaiing van die leringe van die Skrif rakende die voltooide werk van die Here Jesus Christus. Hulle aansprake is soos volg:

Hierdie lering is gebaseer op die oortuiging dat gelowiges geen verantwoording van sonde het nie op grond van die voltooide werk van Jesus Christus.

Om Christene te leer om enige bewuswording van sonde te vermy, is om die stem van hul gewete te ignoreer.

1 Joh 3:20-21
As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan;

Heb 3:13
Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

Het God die sonde van Korintiese gelowiges gesien? Absoluut!
Het Jesus sonde in die sewe kerke in die boek Openbaring blootgestel, hul bestraf en tot bekering geroep? Absoluut!

Open 3:19
Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle.

Ongelukkig is daar gelowiges wat aangetrokke is tot die hiper-genade boodskap, omdat hulle ‘n probleem het met sonde en reinheid. As hulle die hiper-genade boodskap hoor, raak hulle selfvoldaan, vleeslik en bespot diegene wat heiligmaking nastreef. Hulle beweer dat daardie mense genade met werke meng. Eerder as om nader aan die Here te kom in intieme gebed, lees van die Woord en die verdieping van reinheid, val hulle terug in die naam van genade.

Die leer van die hiper-genade leraars pas die leer van die boek Hebreërs verkeerd toe, wat die klem op die voltooide werk en ons posisie in Christus plaas. Hebreërs moet in konteks verstaan word want as die skrywer die leer van die hiper-genade leraars verduidelik het, sou hy nie herhaaldelik gewaarsku het oor die gevare van afvalligheid nie. Kragtens die wet was die bloed van diere nie voldoende om ‘n blywende versoening vir alle sonde te gee nie. Jesus se offer het blywende versoening gebring en daarom verwys die skrywer van Hebreërs dit eens en vir altyd. Die offer van Jesus is volmaak en sal vir ewig gebruik word.

Die opoffering van Christus, eens en vir altyd, beteken nie dat God ons sondes nie kan sien as ons sondig nie. Dit beteken nie dat ons nie hoef te berou as ons weet dat ons gesondig het nie. Dit beteken eenvoudig dat die sondoffer wat onder die wet aangebied is, nie meer nodig is nie.

Dit is die bloed wat ons gewete van sonde reinig, en nie ‘n denkpatroon van sondebewussyn nie.

Die “eens-vir-altyd” verwysings het te make met die “voorsiening” vir die reiniging van ons sondes, en nie ‘n verwysing dat ons, nadat ons gereinig is, permanent heilig is nie, maak nie saak wat ons doen of hoe ons leef nie. Die voorsiening is gemaak om ons te heilig, en dit is ‘eenmalig!’ Tog moet ons waak teen die misleiding van sondes en nie ons harte teen God verhard nie.

1 Joh 1:7-2:1
Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.

Dit is baie duidelik dat Johannes aan gelowiges skryf en die kwessie van sonde aanspreek.

Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy betaal vir elke sonde wat die hele mensdom ooit sal pleeg, van Adam se eerste sonde tot die heel laaste sonde wat op hierdie planeet gepleeg sal word. Maar dit beteken nie dat God ons sondes vergewe voordat ons sondig nie. Dit word nêrens in die Bybel geleer nie, en as die Here sê dat Hy ons vergewe en nie meer ons sondes onthou nie, praat Hy van die sondes wat ons gedoen het toe Hy ons vergewe het.

2 Pet 1:9-11
Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Watter sondes het God vergewe toe ons Hom gevra het om ons te red en ons te reinig? Hy het ons sondes in die verlede, die sondes wat ons gepleeg het voordat ons wedergebore was, vergewe.

Kol 2:14
Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

Volgens Kolossense 2 het Hy ons skuld tot niet gemaak toe ons ons vertroue in Jesus geplaas het en kinders van God geword het.

Dus, as ons na die Here kyk vir verlossing, vergewe Hy elke sonde wat  ons in die verlede begaan het, en vergewe Hy ons selfs vir wie ons is: verlore, rebelse sondaars. Maar Hy vergewe ons nie vir ons sondes voordat ons hulle begaan nie.

Ons gewete word gereinig deur die bloed van Jesus, maar as ons sondig, moet ons berou hê sodat die bloed ons harte weer reinig voor God!

 DEEL II

As jy jou vertroue op Jesus as Verlosser geplaas het en Hom gevra het om jou te vergewe vir al jou sondes, watter sondes het jy bedoel?

Sekerlik die moordenaar en egbreker sal hul berou toon en vergifnis vra vir hulle spesifieke sondes wat hulle gepleeg het? Inteendeel, vergifnis sal gevra word vir alle sondes wat in die verlede gepleeg was.

Op daardie oomblik word die sondaar vergewe en skoon gewas met die Bloed van Jesus. Heeltemal! En al die skuldgevoelens wat jy in die verlede ervaar het toe die Heilige Gees jou van sondes skuldig bevind het, was ook heeltemal weg. Watter ongelooflike genade!

Maar dit het nie by my opgekom om te sê: ‘En Here, terwyl ons daarby is, kan U my asseblief vergewe vir al die sondes wat ek môre wil pleeg en vir die res van my lewe nog gaan pleeg? ‘

Hoekom? Omdat vergifnis is vir wat ons gedoen het, nie vir wat ons gaan doen nie.

Om ‘n voorbeeld te gee, plaas ek R1miljoen in ‘n spesiale bankrekening vir opvoeding. Vir enige skuld onkoste wat jy ondergaan vir onderrig, handboeke of lewenskoste terwyl jou op universiteit is, kan jy vir my ‘n sms stuur met die bedrag en ek sal die fondse na jou rekening oorplaas. Die fondse is daar en die voorsiening word vooraf gemaak, maar die fondse word eers oorgedra nadat die skuld aangegaan is.

Op dieselfde manier dek vergifnis alle “skuld” wat ons aangegaan het, en daarom het Jesus ons geleer om te bid, “vergeef ons ons skuld, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het” (Matt. 6:12)

Sommige vandag sê: “God vergewe nie in paaiemente nie”, en dit klink reg. Maar die lering het geen basis in die Skrif nie.

Dit gesê, jy ontvang nie jou saligheid in paaiemente nie. Die oomblik wat jy Sy Naam aanroep en jy ‘n kind van God word –  gaan jy van die dood na die lewe, van die koninkryk van Satan na die koninkryk van God, van veroordeeld tot onskuldig, van goddeloos tot regverdig, van verlore tot gered, – alles binne ‘n oomblik. Dit is genade in aksie. Dit is die krag van die bloed van Jesus. Dit is ‘n gratis geskenk.

Dit beteken ook dat as jy môre sondig en jou naaste ontstel, jy nie ongered word nie en teruggaan na die dood, terug na die koninkryk van Satan, terug na veroordeling, terug na goddeloosheid en verlorenheid. In plaas daarvan, as ‘n kind van God wat nog in die kolom “vergewe” is – moet jy nou die bloed van Jesus in jou lewe toepas om vars reiniging te ontvang. Maar jy doen dit nie as ‘n verlore sondaar wat gered moet word nie. Inteendeel, jy doen dit as ‘n kind van God wat in die kolom ‘gered-regverdig-heilig-vergewe’ is en hierdie bron van vergifnis, die bloed van Jesus, opnuut op jou lewe toepas.

1 Joh 1:9
Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Die Grieks dui ‘n teenwoordige tyd aan en dit dui op ‘n patroon van ons lewens as gelowiges. As sy kinders bely ons ons sondes teenoor die Here om vars reiniging en vergifnis te ontvang – nie die vergewing van verlossing nie, maar eerder die vergifnis van ‘n verhouding.

Dit is baie belangrik om te verstaan dat God nie ons sondes vergewe voordat ons hulle begaan nie, aangesien hierdie valse leer die deur oopmaak vir alle vorme van misleiding en gevaar. As ek regtig glo dat my toekomstige sondes alreeds vergewe is, kan ek in ‘n tyd van swakheid of versoeking dink: “Dit maak nie saak wat ek doen nie, want ek is alreeds vergewe en daarom kan niks my verhouding met God verander nie”.

Dit beteken nie dat ons een oomblik gered word, die volgende oomblik verlore gaan (as ons sonde doen), en dan weer “gered” word die oomblik dat ons om vergifnis vra. Dit is onskriftuurlik.

Dit is dus van uiterste belang dat ons ‘n plek van veiligheid in die Here sal vind deur te onthou dat ons gered word deur genade, nie deur werke nie, deur God se goedheid, nie deur ons goedheid nie. Dit is ook belangrik om te verstaan dat wanneer God vergewe, Hy vergeet – wat beteken dat Hy nie rekord hou van onreg teen ons nie – en dat ons vergewe word as ons vergifnis vra. En dit is uiters belangrik om te verstaan dat Jesus die prys betaal het vir elke sonde wat ons ooit sal pleeg, en as ons in opregtheid na Hom toe kom en Hom vra om ons skoon te was, sal Hy dit sonder aarseling doen. Die prys is reeds betaal.

Ons kan diep berou toon oor die sondes wat ons gepleeg het, en dit is lofwaardig. Kan jy jou voorstel dat ‘n man wat owerspel gepleeg het teen sy vrou nie diep berou toon oor sy sondes toe hy hom tot God en sy huweliksmaat bekeer het nie?

Sondeberou en om te pleit vir Sy Genade is vandag iets wat as “outyds” beskou word. 

Luk 18:10-13
“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander een ‘n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste.’ “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

Daardie eenvoudige woorde, “God, wees my, ‘n sondaar, genadig,” was die enigste woorde wat ‘n tollenaar nodig gehet om te bid, en Jesus sê dat dit hierdie man – die sondige tollenaar en nie die godsdienstige Fariseër nie – die regverdige was.

Dit is die genade van God; wanneer Hy vergewe, vergeet Hy. 

Omdat hiper-genade predikers nie onderskei tussen die vergifnis van verlossing en die vergifnis van ‘n verhouding nie, leer hulle verkeerdelik dat die oomblik dat jy gered word, selfs toekomstige sondes vergewe word.

Ons kan 100% veilig rus in ‘n verhouding met Jesus sonder om te glo in ‘eenmaal gered, altyd gered’. Ons kan die guns van God 24/7 geniet sonder om te glo dat dit onmoontlik is om Hom te behaag. Ons kan ook heeltemal vry van veroordeling leef en in sekerheid van vergifnis wandel sonder om te glo dat die belydenis van sonde nie vir gelowiges is nie.

Die sleutel is om ontslae te raak van valse en onbybelse denke en om ons gedagtes en harte te vernuwe met die waarhede van God se Woord.

Bron van Inligting:
1. The Grace Controversy by Michael L. Brown
2. https://rootedandgroundedinchrist.com/