Paulus bid spesifieke gebede SONDER OPHOU (Kol 1:9 Col1:9) vir die gelowiges en jy kan hierdie gebede gebruik om te bid SONDER OPHOU oor jouself, jou familie en jou naaste. Hiermee ‘n samevatting van al Paulus se gebede wat Jesus Christus meer en meer aan jou sal openbaar sodat jy in ‘n nuwe en dieper verhouding met Hom kan wandel. Hierdie gebed maak ons geestelik sterk sodat ons die wapenrusting van God KAN OPTEL, AANTREK EN GEBRUIK.

Efe 6:10 (Eph 6:10)
Word kragtig in die Here en in die krag van Sy sterkte.

Ons Hemelse Vader, ons kom voor U in die Naam van Jesus.

Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was, en wat is, en wat kom.
Open 4:8 (Rev 4:8)

Ons kom met vrymoedigheid voor U genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade kan ontvang.
Heb 4:16

Gee ons vandag ons daaglikse brood en voorsien in al ons behoeftes, Vergeef ons van al ons sondes, lei ons nie in versoeking nie en beskerm en verlos ons van die Bose, van siektes en plae.
Mat 6:9-13

Ons vra dat U ons vul met die kennis van U wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat ons waardig voor U mag wandel en U in alles behaag en goeie vrug dra en in die kennis van God mag groei, en bekragtig en versterk kan word volgens die mag van U Heerlikheid om in alle omstandighede geduldig te volhard.
Kol 1:9-11 (Col 1:9-11)

Ons bid dat U deur U Gees aan ons wysheid sal gee en Jesus so aan ons sal openbaar dat ons Hom werklik kan ken. Ons bid dat U ons geestesoë so sal verhelder dat ons kan weet watter hoop U roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat U vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot U krag is wat U uitoefen in ons wat glo.
Efe 1:17-21 (Eph 1:17-21)

Ek bid dat U deur U Gees uit die rykdom van U Heerlikheid aan ons krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in ons harte sal woon en dat ons in liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag ons begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek en mag ons U liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan sodat ons heeltemal vervul kan word met die volheid van God.
Efe 3:16-19 (Eph 3:16-19)

Ons bid dat ons liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Sodat wanneer Christus kom, ons onberispelik en sonder blaam sal wees en geheel en al in die regte verhouding met God sal wees, tot Sy lof en eer.
Fil 1:9-11 (Phil 1:9-11)

Ons bid dat U ons seën en beskerm;
dat U aangesig oor ons sal skyn en ons genadig wees;
dat U aangesig oor ons verhef en aan ons vrede gee.
Num 6:24-26

Ons vra wees ons genadig!
In Jesus Naam
Amen