Woord van Kennis

Die Woord van Kennis, soos alle ander gawes, is bonatuurlik. Geen natuurlike talent, geleerdheid of intelligensie kan geklassifiseer word as ‘n manifestasie van die Heilige Gees nie. Die element van die bonatuurlike moet altyd sigbaar wees. Let wel daar is geen gawe van kennis nie; dit is die gawe van die Woord van Kennis.

Ons kan sê dat die Woord van Kennis ‘n bonatuurlike openbaring is van die bestaan, of die natuur, van ‘n persoon of ‘n saak, of die kennis van een of ander gebeurtenis wat deur die Heilige Gees aan ons gegee is vir ‘n spesifieke doel. Soos die Woord van Wysheid altyd in die toekoms insien, wys die Woord van Kennis wat in die verlede gebeur het.

Hiermee ‘n voorbeeld van die profeet Ahia, na wie Jerobeam sy vrou gestuur het om navraag te doen oor hul seun wat siek was. Die Koning wou nie vir die profeet laat weet dat hy navraag doen nie en stuur sy  vrou terwyl sy haarself vermom het, sodat niemand haar herken nie. Die profeet self was blind  maar God het ‘n openbaring vir hom gegee en toe sy aan die deur klop, het die profeet uitgeroep: ‘Kom in, vrou van Jerobeam.. ” Dit sou ‘n teken wees vir die koningin dat die alwetende God met haar deur die lippe van Sy dienskneg gaan praat. 1 Kon 14.1-6

Jesus het ‘n verbysterende openbaring van dieselfde Woord van Kennis gegee aan die vrou van Samaria by die put wat gekom het om water te trek. Joh 4:10

Die Woord van Kennis is ook ‘n teken wat Natanael verstom gelaat het toe die Here vir hom sê: ‘Voordat Filippus jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was, het ek jou gesien.’ Joh 1:48

Die Woord van Kennis het Ananias gelei na die bekeerde Saulus van Tarsus. Han 9:11

Dit kan ook ‘n geheime  sonde ontbloot, soos in die geval van Ananias, of dit kan tot bekering lei, soos in die geval van die vrou in Samaria.

Die persoon wat die Woord van Kennis of die wysheid van God het, het na God geluister. God het met hom gepraat, Sy Kennis of Sy Wysheid gegee, en al wat van die individu verlang word, is dat hy getrou herhaal wat aan hom gesê word.

Die Woord van Wysheid is die eerste en grootste van al die gawes; maar die Woord van Kennis maak vir ons die onbeperkte hulpbronne van Goddelike Kennis oop. Deur hierdie gawe is die absolute en ewige Soewereiniteit van God geopenbaar byvoorbeeld; die val van die gesalfde engel uit die hoogtes; die skepping van die wêreld en die vorming van die mens uit die stof van die aarde.