Iemand het my onlangs gewaarsku teen ‘bibliolatrie’. Bibliolatrie beteken ‘aanbidding van die boek’, en die term verwys gewoonlik na die praktyk om die Bybel te hoog te eerbiedig.

Die groot vraag is: KAN EK TE VEEL OP DIE BYBEL FOKUS?

Hoekom het Jesus gereeld met die skrifgeleerdes gebots wat te veel op die Skrif gefokus was?

Die skrifgeleerdes het die Mishnah en die Talmud hoër geag as die Ou Testament.

Die Mishnah is die eerste groot geskrewe versameling van die Joodse mondelinge tradisies wat bekend staan as die ‘mondelinge Torah’ en die eerste belangrike werk uit rabbynse literatuur. Die Talmud is die sentrale teks van Rabbynse Judaïsme en die primêre bron van die Joodse godsdienstige reg en Joodse teologie.  In bykans alle Joodse gemeenskappe, was die Talmud die middelpunt van die Joodse kultuurlewe en was dit die grondslag vir ‘alle Joodse denke en strewe’, en dien ook as ‘die gids vir die daaglikse lewe’ van Jode. Die Talmud is ‘n kommentaar van die Mishnah.

Hiermee ‘n voorbeeld van die eenvoudige Sabbatswet. Die Bybel het duidelik aan die Israeliete gesê: “Moenie werk nie, dra nie laste nie, maar rus en hou dit ‘n heilige dag.”

Die Talmud het byvoorbeeld hierdie opdrag as volg gedefinieer:
• kry net melk genoeg vir een sluk, en
• dra ‘n lepel wat minder as een vy weeg

Die skrifgeleerdes het dus al hul tyd in sinnelose geskrifte spandeer wat hul blind gemaak het met ‘n voorkoms van godsdienstigheid.

Johannes verduidelik:

Joh 5:38
En Sy Woord lewe nie werklik in julle nie, omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie.

Een van die mees misverstane konsepte in die Woord is die idee waarom Jesus in gelykenisse gepraat het. Die godsdienstige skynheiliges het gelykenisse gehoor en kon nie verstaan wat Jesus gesê het nie.

Mat 13:10-17
Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?” Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê: “ ‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie. Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’ “Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.”

Vandag bestudeer sommige geleerdes die Skrif om bewyse te kry om sonde goed te praat. As jy die verkeerde motiverings het, sal jy op ‘n dwaalspoor eindig. ‘n Bekende lering is dat alle sonde op die kruis vasgespyker was en dat ons almal nou vergewe is en oppad hemel toe is.

Rom 1:28
En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is.

Efe 1:17
Deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.

Rom 12:2
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

My antwoord op die vraag is; “NEE!  ‘n Mens kan NOOIT die Bybel te veel lees nie!”

En natuurlik wil die vyand jou weerhou van Die Woord.

HY KAN ONS NET VERANDER DEUR SY WOORD!

Ps 119:105
U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.

Heb 4:12
Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Die lees van Sy woord en kommunikasie met Hom maak my meer soos Jesus.

Ps 12:7
Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is.

Open 3:15-20
Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg. Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal. Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.

2 Tim 3:15-16
En jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek.

Jesus berispe die Fariseërs omdat hulle nie die tyd herken het waarin hulle was nie.

Luk 12:56
Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?”

Paulus sê ons moet die tye en seisoene ken en onderskei.

1 Thes 5:1-6
Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ‘n dief in die nag. Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne ‘n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie. Maar, broers, julle leef nie in die duisternis nie; dié dag sal julle nie soos ‘n dief oorval nie. Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees.

Daar is tans ‘n geweldige herlewing in die midde-ooste en veral Moslem lande waar die evangelie nooit voorheen verkondig was nie. Jesus verskyn in drome en hele dorpe word wakker met dieselfde ervaring en volg Christus! Dit blyk Jesus het tog nie die “ABC Genootskap” of “MY Organisasie” nodig om die evangelie te verkondig nie.

Is jy gereed vir Sy wederkoms? Ons ken nie die dag en die uur nie maar ons ken die seisoen. Dan 9:25 kan vandag akkuraat verklaar en uitgewerk word tot die dag en datum van Christus se kruisiging.
Daar is sewe keer meer skrifgedeeltes oor die wederkoms as die eerste koms.

Bly in Sy Woord, Drink Eet en Slaap Sy Woord. Dit sal ons verander en voorberei sodat Sy Bruid gereed sal wees vir SY wederkoms.