Baie van ons gebruik nou hierdie tyd (lockdown) om bietjie huis skoon te maak, kaste reg te pak en te ontsmet.

Jou liggaam is ook ‘n geestelike huis, die tempel van ons Lewende God. Kom ons gebruik hierdie tyd om ons geestelike huis skoon te maak, reg te pak en te reinig.

Huweliks of kinder probleme?

Onthou om jou eie huis eerste skoon te maak. Bid en vra vir verandering in jou eie hart, die skoonmaak van jou eie huis en daarna sal jy vind dat alles in plek sal val tot Sy eer.

1 Pet 2:5 
Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

In 1 Thes 4 herhaal Paulus homself 2 keer dat ons heilig en rein moet lewe, voordat hy bevestig dat Jesus Sy bruid kom haal:

I Thes 4: 3
Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.
I Thes 4: 7 
God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.

I Thes 4: 13-17 
Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.

I Cor 6:19 
Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie:

1 Cor 3:9 
want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.

Jy is God se huis, Sy Tempel, Sy Teenwoordigheid en Sy Glorie is in jou. Jou lewe (huis) bring eer aan Hom deur die lig wat in jou lewe (huis) skyn.

2 Tim 2:21
As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ’n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.

As ons weet daar is ‘n berugte skelm in Hermanus wat in die nag by huise inbreek en goed steel sal ons seer sekerlik al ons vensters toemaak en ons deure sluit en paraat wees. Ons sal onsself en ons huisgesin beskerm.

Die vyand weet jy is die huis van die Almagtige en sal alles in sy vermoë doen om ‘n oop deur of ‘n oop venster in jou lewe te kry waar hy kan insluip.

Maak seker al jou deure is gesluit. Kyk na jou hart. Maak seker daar is geen sonde in jou lewe nie. Maak seker al jou vensters is toe. Beskerm jou oë. Maak seker jy kyk nie na goed wat jy nie moet nie.

Hiermee is ‘n lys waarvan ons onsself moet reining.  Bestudeer die betekenis van elke woord:

Gal 5:19-21 
Kol 3:5
Rom 1:25-32
Efe 5:2-6

As net een deur of een venster in jou lewe oop is, sal die vyand in die nag insluip en jou goed steel, jou beroof en jou lewe verwoes. Onthou die vyand is ‘n baie goeie prokureur. Hy ken die wet (Woord van God) en sal jou aankla sodra jy een van Sy wette (soos hierbo genoem) verbreek het.

Dus bely alle sonde, sluit alle deure, maak alle vensters toe, soek Sy aangesig en bly is SY teenwoordigheid.

ONS GEBED:

Vader ek kom voor U troon in Jesus Naam. Heilige Gees ek verwelkom U in my huis, kom in en maak my skoon, wys vir my waar enige deure en vensters oop is sodat ek dit kan sluit. Reinig en suiwer my hart soos ‘n helder kristal, dat ek U lig kan weerkaats en vir ander ‘n lig kan wees om die pad aan te dui en hulle hoop kan gee.  Ek wil U hande, oë en voete wees en U liefde wys in ‘n donker somber wêreld sonder hoop. In Jesus Naam, Amen.

I Thes 5:23 
Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!

Jes 61:10  
Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ‘n bruidegom met ‘n priesterkroon op, soos ‘n bruid met haar juwele aan.

Efe 5:8
Maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig.

Soveel mense is onseker, sonder hoop en sonder visie. Onthou pragtige motiverings boodskappe sal jou nie deurdra nie maar slegs Sy Woord. Bid sonder ophou en staan sterk in Sy Woord. Bestudeer Sy Woord.

NET DIE WOORD VAN GOD IS GESALF WAT DIE HEILIGE GEES AAN ONS OPENBAAR.

Ons hoop is Sy wederkoms – ons visie is ons Bruidegom – Maranatha kom Jesus KOM !