Die vraag is; hoe moet ons wees?

Wat ons is, is belangriker as wat ons doen.

As ons verhouding reg is met die Here, dit wil sê as ons handel en wandel Hom behaag, dan sal dit wat ons doen, onvermydelik vir Hom reg en aanvaarbaar wees.

2 Pet 3: 11-13
Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.  (1953)

Die bogenoemde Skrif gee ons 4 instruksies:

  1. Om heilig te wandel en om Godsvrug te dra
  2. Leef in verwagting tot die dag van God
  3. Om die dag van God te verhaas
  4. Ons moet uitkyk na die nuwe hemele en die nuwe aarde waarin geregtigheid sal woon.

Die bostaande Skrif toon duidelik die belofte van God vir ons toekoms. Maar om die belofte te beërf, moet ons onsself aanwend op die manier waarop God ons wys deur sy Woord. God bevestig dat Hy vir ons ‘n Vader wil wees. Ons moet egter die spesifieke instruksies nakom om Sy seuns en dogters te word.

2 Kor 6:17-7: 1
“Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af“, spreek die Here; “en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees”, spreek die Here, die Almagtige. Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring. (1953)

Bogenoemde Skrif gee ons ook spesifieke instruksies:

  1. Gaan onder hulle uit. Van wie? Die ongelowiges, die wêreld. Beteken dit dat ons moet woon op ‘n plek waar daar nie ongelowiges is nie? Nee, dit beteken bloot dat ons nie die gees van hierdie tyd mag toelaat om ons gevange te hou nie.
  2. Word geskei. Sonder jou af vir God se werk en wil vir jou lewe.
  3. Moenie aan dit wat onrein is, raak nie. Dit beteken nie iets fisies wat jy kan aanraak nie. Dit verwys na geestelik onreinheid. Wat ons na kyk, wat ons lees en na luister, is wat ons kan besoedel.
  4. Laat ons onsself reinig van alle vuilheid van vlees en gees.

Jesus sê “salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien”. ‘n Suiwer hart sal ‘n rein lewe voortbring. Wat jy in jou hart sit, is wat uit jou hart sal kom. Verkeerde dinge (sonde) sal die verkeerde vrugte dra, en regverdige dinge sal regverdige vrugte oplewer.

Spr 4:23
Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Bogenoemde Skrif maak dit baie duidelik dat ALLES in die lewe uit ons harte kom. ‘n Goeie hart lewer ‘n goeie lewe.

Kom ons kyk na punt 4: hier moet ons aktief betrokke wees. Ons het die verantwoordelikheid om onsself te reinig van alle besoedeling van die vlees. En om die gees skoon te hou, moet ons wegbly van enige okkultiese invloede of valse leerstellings. Die bloed van Jesus reinig ons van alle ongeregtigheid. Hy het die prys betaal en my sonde weggeneem. Nou is dit my verantwoordelikheid, as Sy kind, om daagliks ‘n rein en regverdige lewe te leef en my hart met alle ywer te bewaar!

Ons Gebed:
Hemelse Vader, ons kom na U toe in die Naam van Jesus. Ons loof en aanbid U, Here. Dankie Vader vir my verlossing. Dankie dat my sondes vergewe is. Here, help my asseblief om my lewe te leef waardig en tot eer, deur die genade werk wat Jesus aan die kruis vir my gedoen het.
Here, help my om my hart en gees te bewaar, om dit suiwer te hou tot op die dag van die Here, sodat ek saam met U in U koninkryk sal wees tot in alle ewigheid. In Jesus naam, Amen.