Wat opkom in ons gedagtes as ons aan God die Vader dink, sê baie van wie ons is. Ons aanbidding is gebaseer of ons ‘n hoë of ‘n lae opinie het van God. Die belangrikste eienskap van enigiemand, is hoe diep hy of sy in hulle hart oor God wonder en dink en hul gedagtegang rondom Hom.

Die lokale en globale kerk dra ook ‘n boodskap uit oor haar idee van God. Wat sy oor God sê of wat sy nié sê nie, speel ‘n belangrike rol in haar staanplek in die wêreld. Sy kan nooit ontsnap van haar selfopenbaarmakende getuienis aangaande God nie, want Hy is mos uit die aard van die saak die middelpunt van haar bestaan.

Om ‘n hoë konsep van God die Vader te handhaaf is so noodsaaklik vir die kerk om effektief te wees en om haar roeping te volbring in hierdie huidige despensasie. Wanneer die konsep van God in enige mate begin afneem in haar gedagtegang, begin haar aanbidding en morele standaarde ook af te neem. Die eerste stap van afvalligheid vir enige kerk word geneem, wanneer sy haar hoë mening oor God die Vader begin prysgee. Die grootste verpligting wat die Christelike Kerk vandag het, is om haar konsep van God te suiwer en te verhef totdat dit weer eens waardig is vir Hom en vir haar. In al haar gebede en arbeid moet dit die eerste plek in neem.

Die hunkering om te wil weet wat nie geken kan word nie en om te begryp wat onbegryplik is, spruit voort uit die beeld van God wat Hy daar geplaas het in die natuur van die mens. Alhoewel die siel besoedel geword het deur die ramp van die sondeval, verlang die siel om terug te keer na sy bron van oorsprong. Ingebore in ons menswees is daar ‘n diepe verlange na God.

God die Vader openbaar Homself aan die mens deur Christus Jesus Sy Seun. Die Vader openbaar Homself nie aan ons deur ons redenasie vermoeiens nie, maar wel deur geloof en liefde. God die Vader het na ons toe gekom in die menswording van Sy Seun Jesus Christus. Die Vader het ons met Homself versoen deur die kruis. Met opregte belydenis van ons sondes, deur geloof in God ervaar ons Sy Liefde, en gaan ons terug na ons bron van oorsprong deur die versoenings werk van Jesus aan die kruis. Hallelujah!

Dit is duidelik dat die Skrif op ‘n mensvormige wyse van God spreek.

Kol 1:15 (Col 1:15)
Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie.

Gen 32:32
En Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie”

Eks 15:6 (Exo 15:6)
U regterhand, Here, gedug in sy krag, U regterhand, Here, verpletter die vyand

Deut 11:12
Dit is ‘n land waarvoor die Here jou God sorg: van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor

God het ook die mens geskape na Sy beeld en Sy gelykenis.

Gen 1:26,27
Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep

Hierdie beeld is ongelukkig deur die sondeval aangerand, en moet in Christus herstel word in ware kennis, geregtigheid en heiligheid.

Efe 4:22-24
Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

Ons aanbid God nie deur middel van beelde soos in ander kulture die geval is nie, maar ons is self beelddraer van God! En dit kan net moontlik gemaak word deur Christus wat die beeld van die onsienlike God is Kol 1:15 (Col 1:15), en wat in waarheid kon sê: “Wie My sien, sien die Vader.” Joh 14:9.

Hierdie vermoë, “Wie My sien”, is nie vir die mens ‘n natuurlike vermoë nie, maar dis ‘n genadedaad van Bo. Jesus vra die volgende vraag aan Sy dissiples: “wie sê julle is Ek?” Simon Petrus antwoord toe: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. Mat 16:15-17. Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus”, nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees 1 Kor 12:13 (1 Cor 12:13).

Die oë van die Emmausganger moes eers geopen word sodat hulle kon sien.

Luk 24:13-31
Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!” Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.

Christus het dus nie met Sy menswording Sy Godheid afgelê nie, maar verberg, om dit te openbaar aan wie Hy wil, waar Hy wil en soos Hy wil. Jes 65:1 (Isa 65:1), sê dit so mooi:- “Ek het my wil geopenbaar aan ‘n volk wat nie na My gevra het nie. Ek het My laat vind deur mense wat My nie in die gebed gesoek het nie. Vir ‘n nasie wat My nie aangeroep het nie, het Ek gesê: Hier is Ek! Hier is Ek!”

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid Joh 1:14, want Hy sou genoem word Emmanuel, dit is: “God by ons” Mat 1:23. Christus is dus die beeld van God, ‘n openbaring van God, die afstraling van Sy heerlikheid. Christus is die beeld van God deur Wie alleen ons na die Vader kan gaan. Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom” Joh 14:6.

Wanneer die beeld van God in ons hart nie reg is volgens die Skrif nie, dan is dit ‘n selfgemaakte beeld. ‘n Plaasvervanger vir die ware God wat dan na ons gelykenis gemaak is en wat by ons morele standaard en leefstyl moet aanpas. En dit, broers en susters, is verkeerd!

Gebed:
Hemelse Vader, ons bid dat die Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan ons wysheid sal gee en Hom so aan ons openbaar dat ons Hom werklik kan ken. Ek bid, dat Hy ons geestesoë so verhelder dat ons kan weet watter hoop Sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir ons die gelowiges bestem het. En hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. (Efe 1:17-19)
In Jesus Naam, Amen.